As jy in jou middel-50’s is en skielik die keuse kry om vroeg af te tree, kan dit aanloklik lyk om dit te aanvaar – veral as daar ’n kans is dat jy nie die gewone strafheffings hoef te betaal omdat jy jou aftreefondse vroeg opvra nie. Wees egter versigtig en neem ’n ingeligte besluit – daar is baie om te oorweeg.
Enige besluit oor aftrede verg ’n plan
Voordat jy enige besluite neem om permanent jou werkplek te verlaat, vra jouself die volgende af:
- Het ek genoeg gespaar gedurende my werkjare?
- Is my werknemeraftreefonds die enigste aftreespaargeld wat ek bymekaargemaak het?
- Watter maandelikse inkomste sal my aftreespaargeld kan verskaf nadat ek afgetree het?
- Wie is nou van my inkomste afhanklik?
- Wie sal in die toekoms finansieel van my afhanklik wees?
- Is my huis ten volle afbetaal?
- Is ek skuldvry?
- Ek is nou gesond, maar sê nou ek raak siek of ongeskik? Wat sal ek dan doen?
- By die werk het ek ’n doelwit, fokus en take wat my dag vul. Sal ek ’n nuwe doelwit hê wanneer ek aftree?
- Dit is bekend dat mense deesdae langer leef as vorige generasies. Dit laat die vraag ontstaan: Sal my aftreespaargeld genoeg wees om my lewenslank te onderhou?
Hier’s ’n doenlysie om jou gedagtes verder te lei
- Kyk deeglik na jou huishoudelike begroting. Evalueer elke uitgawe wat in jou huis aangegaan word – noodsaaklike lewenskostes sowel as luukse items. In elke begroting is daar vaste kostes wat waarskynlik nie gaan verander nie, of jy nou werk of nie. Voorbeelde is skool- en universiteitsgelde vir jou kinders, of skuld wat terugbetaal moet word. Hierdie kostes sal miskien nog jare lank daar wees. Daarom is dit belangrik om jou begroting gereeld te hersien, omdat jou maandelikse inkomste uit jou aftreefonds minder kan wees as jou huidige maandelikse inkomste. As ’n afgetredene sal jy dalk op kostes soos brandstof kan bespaar, maar nuwe kostes kan bykom – byvoorbeeld ’n privaat mediese fonds, wat voorheen ’n werknemervoordeel kon wees.