Jy het ’n kloppende hoofpyn wat jy net nie kan afskud nie. Jy tik jou simptome by dr Google in. Die resultaat is ’n magdom diagnoses, van ’n spanningshoofpyn tot ’n gewas! Ongelukkig kan selfdiagnose op die internet soms meer kwaad as goed doen.
Al hoe meer Suid-Afrikaners het deesdae toegang tot die internet en dr Marion Morkel, Hoof Mediese Beampte by Sanlam, meen dat ’n toenemende getal mense Google gebruik om hulle simptome na te vors, vóór hulle ’n gesondheidskundige raadpleeg.
Baie mense gebruik ook die internet om ’n tweede mening te kry oor gesondheidsverwante kwessies of om inligting te bekom oor ’n dokter se raad. Dis gratis, vinnig en 24/7 beskikbaar.
Daar is egter teenstrydige data oor die verhouding van akkurate tot onakkurate mediese inligting wat aanlyn beskikbaar is. In 2014 het ’n opname bevind dat 9 uit 10 Wikipedia-inskrywings oor gewilde mediese onderwerpe onakkurate mediese inligting bevat het in vergelyking met inligting wat deur bewyse en portuurbeoordeling ondersteun is.